Tuesday 31 January 2012

Kerkhorlosie en Klok


Wat  is ‘n kerktoring sonder ‘n horlosie?

Bouwerk aan die kerkgebou het in 1964 in aanvang geneem en op 21 November 1964 is die kerk ingewy. Die horlosie en klok is deur die firma Will. W. Keay & Sons, te Kaapstad, vanaf Duitsland ingevoer. Die opgewondenheid was groot toe die Kerkraad inkennis gestel is dat die klok en horlosie met die skip “TANGA” na Suid Afrika onderweg is. Die vier kratte met die waardevolle inhoud sou op 12 Oktober 1964  Port Elizabeth se hawe binnevaar. Die koste van die horlosie was R1050 en die klok R800.  Die klok is van brons (suiwer koper en tin) met ‘n massa van 675 lbs.  Die klok is gestem in “D” en die reeksnommer 12902 is in die metal gegiet.

Ongelukkig het die horlosie sowat 15 jaar gelede opgehou om die tyd aan te wys en het die duiwe hulle slaapplek in die horlosiekamer en klokhuis gemaak. Die groot stilte van ons kerkhorlosie het uiteindelik hard genoeg tot ons gemeentelede gespreek en moes daar dringend plan gemaak word om die horlosie weer aan die loop te kry.

Na ‘n deeglike inspeksie, goeie skrop met ‘n skoonmaakmiddel om al die duiwemis en stof te verwyder kon al die ratte behoorlik ge-olie word voordat die pendulum in beweging gebring is.  Op Vrydag 27 Jan 2012 kon die eerste 12 slae van die hamer op die groot klok gehoor word. Sondagoggend 29 Januarie 2012 was voorwaar baie spesiaal toe ons voor en tydens die erediens weer kon hoor hoe die horlosie die tyd aan die gemeente van Loerie aan kondig en terselfdertyd die tyd op ‘n sigbare en hoorbare manier  aan die groter gemeenskap in die omgewing aankondig.