Saturday 16 November 2013

Feesnaweek



Na maande (jare?) se beplanning, kopkrap en uitsien, het die Feesnaweek aangebreek:  Die N.G. gemeente van Loerie is 75 jaar oud! Voorwaar ‘n mylpaal wat ‘n fees werd is. 75 jaar waarin baie dinge gebeur het, gemeentelede en predikante gekom en gegaan en die samestelling van die gemeente verander het.

Met vergaderings en e-posse heen en weer het het die reelings begin vorm aanneem en daar is besluit op vele projekte: bussies vir ekstra munte (en papiergeldjies), ‘n resepteboek uit die hart van die gemeente en die maak van ‘n tydkapsule vir oor 25 jaar. Die resepteboek was ‘n uitdaging in vele opsigte, maar die eindproduk is ‘n veertjie in die hoed van die opstellers en die drukkers. Baie geluk!


Vrydagaand se feesete was ‘n heerlike byeenkoms vir oud- en huidige lidmate. Die nederige kerksaal het in sy/haar lewe nog nooit sulke mooi feesklere aangehad nie! Die kos was heerlik, die samesyn gesellig en daar is oor en weer gekuier en gepraat oor die foto’s, 1963 se feeskollektelyste, herinneringe en goedjies uit die vroeër tyd. Hoe laat is die laaste gaste huis toe? Nugter weet!


Sondag se Feesdiens was ‘n heerlike lekkerte. Oud-lidmate het weer die banke warm gemaak en die voorsang en orrelspel was werklik ‘n lus vir die oor. Die preek het stof tot nadenke gegee en die Valleikoor het luister verleen aan die geleentheid. Die gemeentevroue het nie op hulle laat wag nie en die beste lekkernye gelos vir laaste. Die tee na die diens was ‘n behoorlike kuier en onthou-jy-nog.
Baie dankie aan elke person wat aandadig was aan hierdie besondere naweek.



Loerie, Quo vadis?
 



No comments:

Post a Comment