Saturday 16 November 2013

Feesnaweek



Na maande (jare?) se beplanning, kopkrap en uitsien, het die Feesnaweek aangebreek:  Die N.G. gemeente van Loerie is 75 jaar oud! Voorwaar ‘n mylpaal wat ‘n fees werd is. 75 jaar waarin baie dinge gebeur het, gemeentelede en predikante gekom en gegaan en die samestelling van die gemeente verander het.

Met vergaderings en e-posse heen en weer het het die reelings begin vorm aanneem en daar is besluit op vele projekte: bussies vir ekstra munte (en papiergeldjies), ‘n resepteboek uit die hart van die gemeente en die maak van ‘n tydkapsule vir oor 25 jaar. Die resepteboek was ‘n uitdaging in vele opsigte, maar die eindproduk is ‘n veertjie in die hoed van die opstellers en die drukkers. Baie geluk!


Vrydagaand se feesete was ‘n heerlike byeenkoms vir oud- en huidige lidmate. Die nederige kerksaal het in sy/haar lewe nog nooit sulke mooi feesklere aangehad nie! Die kos was heerlik, die samesyn gesellig en daar is oor en weer gekuier en gepraat oor die foto’s, 1963 se feeskollektelyste, herinneringe en goedjies uit die vroeër tyd. Hoe laat is die laaste gaste huis toe? Nugter weet!


Sondag se Feesdiens was ‘n heerlike lekkerte. Oud-lidmate het weer die banke warm gemaak en die voorsang en orrelspel was werklik ‘n lus vir die oor. Die preek het stof tot nadenke gegee en die Valleikoor het luister verleen aan die geleentheid. Die gemeentevroue het nie op hulle laat wag nie en die beste lekkernye gelos vir laaste. Die tee na die diens was ‘n behoorlike kuier en onthou-jy-nog.
Baie dankie aan elke person wat aandadig was aan hierdie besondere naweek.



Loerie, Quo vadis?
 



Sunday 13 May 2012

Die Kerk se nuwe baadjie

Dit is met groot dankbaarheid en trots dat ons op Sondag, 13 Mei 2012, weer die kerkgebou kon betrek. Die afgelope maandewas ‘n groot frustrasie en die langdurige ongerief om eredienste in die saal by te woon, was beslis nie maklik nie. (Dit was nogal pret om so op die tafels die Kerkbode te kon lees voor die diens!)Die algemene toestand van die gebou was van só ‘n aard dat méér as die beplande tyd en beraamde uitgawe aan die toring gespandeer is. Uiteindelik het die toring sowat vier lae verf en die binnekant van die kerk drié lae gekry!

Selfs die verskillende swerms byein die kerk se dak het hulle deel bygedra om die hertstelproses te vertraag en ongemak te veroorsaak. ‘n Paar keer het reën ook die werk onderbreek.



Ongelukkig was daar nie genoeg fondse om ál die nodige opknappingswerk af te handel nie, maar die houtpanele, deure, kosyne en orrelkas is vernis ná ‘n ruim skenking van verf en vrywillige arbeid. Die siersteenwerke aan die buitekant van die kerk is ook gratis verseël. Die blindings is oud en verweer, maar is geskrop en nadat die materiaalstroke gratis herstel is, kon hulle weer gehang word.

Die kerkgebou lyk pragtig, maar die opknappingswerk is ‘n nimmereindigende proses en die lys van take wat nog aangepak moet word, lank. Onafgehandelde take sluit in, o.a.: die matte, die teëls op die trappe en in die voorportaal en die teëls op die gallery. Indien daar lidmate en oud-lidmate is wat ‘n bydrae wil lewer, kan hulle dit direk aan die kerkkantoor betaal, aan die wyksdiakens gee vir inbetaling of saambring kerk toe en die koevertjie (gemerk ‘opknapping’) in die kollektebordjie plaas.

Die gemeente en kerkraad wil vir Theo Vosloo bedank vir sy volgehoue passie, ywer en entoesiasme om die opknapping ‘n werklikheid te maak. Hy het baie ure op die terrein spandeer. Baie dankie, Theo!

Sunday 25 March 2012

'Waar 'n wil is, is 'n weg'  Dit het die lidmate van Loeriegemeente Saterdag bewys! 'n Groot dankie aan elke lidmaat en besoeker wat op een of ander wyse bygedra het tot die dag. Nadat die wind- en reënstorm bedaar het, het die son geskyn en kon die jonges van gees baljaar tussen die ketties, kussings en jukskeie. Die keurige tafels is fluks ondersteun en niemand kan kla dat hy/sy nie genoeg gehad het om te eet nie. 

Die jaar se Naweekbasaar was net 'n proeflopie! Wag vir 2013 se bielie !!

Tuesday 31 January 2012

Kerkhorlosie en Klok


Wat  is ‘n kerktoring sonder ‘n horlosie?

Bouwerk aan die kerkgebou het in 1964 in aanvang geneem en op 21 November 1964 is die kerk ingewy. Die horlosie en klok is deur die firma Will. W. Keay & Sons, te Kaapstad, vanaf Duitsland ingevoer. Die opgewondenheid was groot toe die Kerkraad inkennis gestel is dat die klok en horlosie met die skip “TANGA” na Suid Afrika onderweg is. Die vier kratte met die waardevolle inhoud sou op 12 Oktober 1964  Port Elizabeth se hawe binnevaar. Die koste van die horlosie was R1050 en die klok R800.  Die klok is van brons (suiwer koper en tin) met ‘n massa van 675 lbs.  Die klok is gestem in “D” en die reeksnommer 12902 is in die metal gegiet.

Ongelukkig het die horlosie sowat 15 jaar gelede opgehou om die tyd aan te wys en het die duiwe hulle slaapplek in die horlosiekamer en klokhuis gemaak. Die groot stilte van ons kerkhorlosie het uiteindelik hard genoeg tot ons gemeentelede gespreek en moes daar dringend plan gemaak word om die horlosie weer aan die loop te kry.

Na ‘n deeglike inspeksie, goeie skrop met ‘n skoonmaakmiddel om al die duiwemis en stof te verwyder kon al die ratte behoorlik ge-olie word voordat die pendulum in beweging gebring is.  Op Vrydag 27 Jan 2012 kon die eerste 12 slae van die hamer op die groot klok gehoor word. Sondagoggend 29 Januarie 2012 was voorwaar baie spesiaal toe ons voor en tydens die erediens weer kon hoor hoe die horlosie die tyd aan die gemeente van Loerie aan kondig en terselfdertyd die tyd op ‘n sigbare en hoorbare manier  aan die groter gemeenskap in die omgewing aankondig.


 

Friday 23 December 2011

Kersliedere by kerslig

Ons eerste kersliedere by kerslig byeenkoms !! Ons het heerlik saam gesing en gekuier - Baie dankie aan die organiseerders en deelnemers. Ons maak volgende jaar weer so.

Sunday 4 December 2011

Kerssangdiens





Die gesamentlike Valleikoor onder leiding van Retha van der Merwe en Annatjie Malan het opgetree tydens die gemeente se kersangdiens op 4 Desember 2011.

Sunday 27 November 2011

Kersspel

Baie dankie aan elkeen wat by die Kersspel betrokke was en hulp verleen het. Aan al die deelnemers - baie dankie - die Kersspel was pragtig.